In baie klein dorpe van die Weskus Distrik speel dieselfde prentjie hom daagliks af.
Tieners staan soggens laat op sonder planne vir die dag – party het reeds die skool verlaat.
Ander probeer nog rigting vind in moeilike omstandighede waar werk skaars is, ouers swaarkry, en negatiewe invloede al sterker raak. Wat daagliks waargeneem kan word – Te veel jongmense begin glo dat niemand meer in hulle toekoms belangstel nie.
Dis juis waarom West Coast Sports Solutions (WCSS) NPO nou ’n groot droom vir die streek begin bou, nie net vir rugby of netbal nie, maar vir jongmense wat maklik deur die samelewing vergeet word.
WCSS beplan tans in September ’n O/19 Netbal- en 7’s Rugby sportdag in die Weskus Distrik, in samewerking met JBC Foundation @ 7’s NPC van Mitchell’s Plain in Kaapstad. ’N organisasie wat reeds jaarliks groot jeugsportnaweke aanbied waar talentvolle spelers van regoor die Wes-Kaap saamtrek.
Vir beide organisasies gaan hierdie samewerking oor iets groter as net sport.
JBC Foundation werk reeds jare met verskillende ouderdomsgroepe, maar WCSS wil spesifiek eers jongmense bereik wat nie meer skoolgaan nie. Seuns en dogters tussen 17 en 19 jaar oud wat onder verskillende omstandighede vroeg uit die skoolstelsel geval het.
As stigter van WCSS, voel ek dat daardie jongmense nie hul talent verloor het, omdat hulle nie meer op skool is nie.
“Ons Suid-Afrikaanse O/20 rugbyspan is tans wêreldkampioene, maar baie van daardie spelers het bloot die regte geleenthede gekry,” “Wat as daar ’n jong seun op ’n klein plattelandse dorp sit wat ook die talent het om raakgesien te word?
Wat as sport net een deur vir hom of haar kan oopmaak?” “Ek glo sport alleen gaan nie al die probleme van gemeenskappe oplos nie, maar dit kan wel jongmense uit gevaarlike omgewings hou en weer iets gee om in te glo.
“Wanneer jongmense op ’n sportveld oefen, dwaal hulle nie rond in die strate nie,” glo ek..
“Sport gee dissipline.
Dit gee mentorskap.
Dit gee spanmaats wat soos familie begin voel en soms gee dit vir ’n jongmens vir die eerste keer die gevoel dat iemand nog in hom glo.”
WCSS het reeds in 2023 bewys dat sulke projekte moontlik is toe die organisasie ’n suksesvolle O/19 Rugby 7’s-toernooi in Moorreesburg aangebied het, waar 13 spanne deelgeneem het – sonder groot borge of formele kontrakte.
Die grootste oorwinning was nie net die rugby nie, maar die feit dat die dag sonder ernstige insidente verloop het en dat spelers, afrigters en gemeenskappe positief saamgewerk het.
“Ons het daardie dag gesien hoe sport mense bymekaar bring,” .
WCSS is reeds besig met onderhandelinge met moontlike borge, terwyl voorbereidings vir die September sportdag voortgaan.
Die plan is dat die top drie spanne van die plaaslike toernooi, op 25 September teen van die beste WP-spanne in Kaapstad moet gaan deelneem tydens JBC Foundation se jaarlikse sportnaweek.
WCSS kan ook bevestig dat die WCSS 7’s-rugbyspan reeds in Junie met ernstige voorbereiding begin, en dat hul eerste oefenwedstryd in die Bergrivier Munisipaliteit reeds bevestig is.
WCSS doen nou ’n beroep op rugbyklubs, netbalklubs, sportorganisasies, gemeenskapsleiers en besighede regoor die Weskus om hande te vat.
“Ons kan nie aanhou kla oor gangsterisme, dwelms en jongmense wat rigting verloor, maar niks doen om hulle alternatiewe te gee nie,” “Nie elke kind gaan ’n professionele speler word nie, maar as sport net een jongmens weg hou van verkeerde paaie, dan het dit reeds ’n verskil gemaak.”
Besighede of organisasies wat in vennootskap met die projek belangstel, kan WCSS kontak by: admin@wcsportssolutions.co.za