Bring nuwe hoop vir Weskus-jeug
HOPEFIELD:- West Coast Sports Solutions (WCSS) NPC nooi rugby – en netbalklubs, skole, gemeenskapsorganisasies en afrigters regoor die Weskusdistrik uit om hul O/19-spanne gereed te kry vir die Julies Transport O/19 Rugby & Netbal 7’s Toernooi, wat op Saterdag 19 September 2026 op die Ronnie Louw Sportgronde in Hopefield plaasvind.
Hierdie toernooi is veel meer as net nog ‘n sportdag. Dit is deel van WCSS se langtermynvisie om jongmense van die Weskus nuwe geleenthede te bied en sport as ‘n instrument te gebruik om talent te ontwikkel, selfvertroue te bou en hoop vir die toekoms te skep.
Een van die belangrikste doelwitte van die toernooi is om 17-, 18- en 19-jarige seuns en meisies wat nie meer op skool is nie, ook die geleentheid te gee om hul talent op die sportveld te wys. WCSS glo dat geen jongmens uitgesluit behoort te word bloot omdat sy skoolloopbaan vroeg beëindig is nie.
Om die integriteit van die kompetisie te beskerm, sal skriftelike bewys van elke speler se ouderdom verpligtend wees. Die ouderdomsvereistes bepaal dat spelers tussen 17 en 19 jaar oud moet wees, met 19-jariges wat ná Februarie 2026 verjaar het, wat steeds kwalifiseer om deel te neem.
Die September-toernooi is egter slegs die begin van ‘n groter droom.
WCSS is tans besig om die finale besonderhede van ‘n samewerkingsooreenkoms met JBC Foundation van Mitchells Plain af te handel. Indien alles volgens beplanning verloop, sal die kompetisie uitgebrei word met ‘n verdere toernooi waarin die top vier spanne van die Weskus die geleentheid sal kry om teen vier sterk Kaapse spanne in Moorreesburg kragte te meet.
Hierdie inisiatief kan ‘n belangrike platform word waar plattelandse spelers hul vermoëns teen van die beste spanne in die Wes-Kaap kan toets en moontlik die aandag van groter rugby- en netbalstrukture trek.
WCSS doen daarom ‘n beroep op rugby- en netbalklubs, skole, gemeenskapsorganisasies en afrigters om reeds nou hul spanne saam te stel en voor te berei. Hoe meer geleenthede ons vir ons jongmense skep, hoe groter word die kans dat talent uit ons landelike gemeenskappe raakgesien sal word.
Verskeie fondsinsamelings en borgskapinisiatiewe is reeds aan die gang om van die Julies Transport O/19 Rugby & Netbal 7’s Toernooi ‘n sukses te maak. Die organisasie spreek sy opregte waardering uit teenoor almal wat reeds hul ondersteuning belowe het.
Meer besonderhede oor inskrywings, wedstrydreëls, kontakpersone en sluitingsdatums sal binnekort bekend gemaak word. Sport verander lewens. Kom ons gee ons Weskus-jeug die geleentheid wat hulle verdien.