Wanneer Gaan diè Gemeenskap Besef

“Jy bly op die verkeerde dorp”

Ek sit vandag terug en dink aan woorde wat oor die jare soos skadu’s agter my aanloop. Woorde wat nie hard geskree is nie, maar sag gesê,  en juis daarom die diepste sny.

“Jy bly op die verkeerde dorp.”

Dit is woorde wat meer as een keer na my toe gekom het. Die enigste sukses storie – 2010

Nie van mense wat my nie ken nie, maar van mense wat my dopgehou het. Mense wat gesien het hoe ek oor jare probeer bou, organiseer, motiveer, skryf, vra, verduidelik, en weer probeer. Mense van buite my gemeenskap, wat van ’n afstand af kon raaksien wat ek self lank nie wou aanvaar nie.

Nog ’n sin wat saam met daardie woorde loop, is een wat ek nooit sal vergeet solank ek lewe nie:

“U dorp se mense stel nie belang in wat u probeer doen vir u gemeenskap se kinders nie.”

Ek het dit eers as ’n belediging beleef. Vandag weet ek,  dit was ’n waarneming.

 Waar my storie regtig begin het.

Ek het nie grootgeword met groot woorde soos “gemeenskapsontwikkeling of jeugsportontwikkeling” nie.  Ek het nie geweet daar is mense wat hulle lewens daaraan wy om strukture te bou waar kinders veilig kan droom nie.  Ek het eers daarvan bewus geraak toe ek, ’n paar maande ná my vrou se skielike dood,  vandag al meer as 17 jaar gelede,  in ’n kantoor gaan sit het waar sulke projekte daagliks bespreek en bestuur is.

Maar ironies genoeg het my eie kinders my lank voor dit al probeer wys. Twee van my dogters was besonderse atlete.  Nie “goed” nie,  besonders. Maar ek het dit nie raakgesien nie, of dalk wou ek dit nie sien nie, want ek was besig om net te oorleef.

My oudste dogter was op hoërskool, toe sy in Bellville-Suid aan ’n atletiek byeenkoms deelgeneem het.  Die middag skakel ek haar om te hoor hoe dit gegaan het. Haar stem was sag, maar trots.

“Pappie, ek het tweede gekom.  “Die klippies het my voete baie seer gemaak, anders was ek eerste.”

Ek was bly vir haar. Regtig bly, maar dit was waar dit geëindig het.  Ek het nie gevra of daaraan gedink om vir  haar atletiek skoene te koop nie.  Ek het nie gedink aan ondersteuning nie, ek het nie besef wat my kind eintlik nodig gehad het nie.

My jongste dogter het later, op laerskool, iets gedoen wat ek nooit sal vergeet nie.  Ek het langs die atletiekbaan gestaan toe sy wegspring, en toe sien ek hoe sy die ander kinders nie net verbygaan nie, maar hulle letterlik van agter af ingehaal het.  Ek het gespog by vriende, vertel hoe vinnig ek self op skool was.  Maar weer eens het ek nie besef: dit is nie normaal nie.

Dit was talent, talent wat rigting nodig gehad het.Die jongmanne het daardie sukses storie begin

Vandag, met alles wat ek nou weet, besef ek: my kinders moes ondersteuning gekry het.  Motivering – Struktuur – Maar ek verstaan ook hoekom dit nooit gebeur het nie.  As ek vandag sien hoe ek self, as volwassene wat probeer teruggee, behandel is,  dan weet ek hoekom my kinders net nóg twee kinders was, wat deur die krake geval het.

Wanneer eerlikheid jou duur te staan kom

My werk as verslaggewer,  my keuse om eerlik en feitelik te skryf, sonder om iemand se posisie of titel te beskerm,  het my nie baie gewild gemaak nie.  Ek het dit geweet. Wat ek nie besef het nie, is dat my kinders ook die prys daarvoor sou betaal.

Oor die jare het ek verskeie projekte geloods. Sportprojekte – Jeugprojekte en Erfenisprojekte.  Elke keer met dieselfde doel: om iets terug te gee, om kinders blootstelling te gee, om trots te bou waar daar min is.

  • Elke keer het dit op dieselfde manier geëindig.
  • Nie omdat daar nie belangstelling was nie.
  • Nie omdat daar nie potensiaal was nie.

Maar omdat mense in posisies besluit het,  as ek nie beheer nie, moet dit val.

Die Ronnie Louw Rugbydag  –  ’n droom wat doelbewus gekelder is.

 In 2021 besluit ek om ’n rugby-legende van Hopefield, Ronnie Louw,  ook ’n boesemvriend ,  te vereer deur ons organisasie, Cape Coast Youth.  Ronnie se rugbyloopbaan het nie hier begin ontplof nie, maar in Paarl, by Albion Rugbyklub, waar hy saam met twee vriende gaan werk en speel het.  Dit is waar hy ’n huishoudelike naam begin word het. Kort voor lank was hy ‘n huishoudelike naam wat heelagter vir die Proteas gespeel het. Weens apartheid het hy soos baie bruin en swart spelers nooit die geleendheid gekry om vir die Springbokke te speel nie. Hy het wel vir die Proteas teen die All Blacks en Britse Leeus gespeel.

Ek het  skrywes gerig aan WP Rugby.  Ek was toe gelei deur unie, tot ek  in kontak met mnr André Kermis, toe voorsitter van Albion RFC gekom het.

Gesprekke volg. E-posse. Telefone. Maande se beplanning.

  • Die idee was eenvoudig, maar kragtig:
  • ’N Ronnie Louw Rugbydag op Hopefield.
  • Drie Paarl-klubs teen drie Weskus-klubs.
  • ’N Hoofwedstryd teen Hopefield self.

In 2022 eindig Albion eerste in hul liga, en dit het dit alles net mooier gemaak.

Die storie skryf homself.

Ons was selfs in Wellington, by Boland Rugbyunie se kantore, om die dag finaal te reël.  ’N Bestuurslid van Hopefield Rugbyklub het ons self soontoe geneem.

Alles was gereel en gereed.

Toe, die Woensdag voor die Saterdag, sien ek toevallig ’n Facebook-plasing: Vredenburg Rugby gaan op ‘n oefenkamp Langebaan toe. My maag het saamgetrek, want ek het besef iets is verkeerd.

Ek bel toe dadelik die voorsitter, het ongelukkig sy naam vergeet. Ek het my foon se speaker aangesit, terwyl vier van my vriende   sit langs my gesit en luister het.

Die voorsitter het gesê wat ek eintlik gevrees het..
“Hopefield se bestuur sê hulle weet niks van ’n sportdag nie, hulle speel daardie dag in Langebaan.”

  • Maande se werk.
  • Geen kennisgewing.
  • Geen verduideliking.

Daardie Donderdagaand draai ’n Coca-Cola trok, vol voorraad wat geborg is, weer om – Nie een persoon het verantwoordelikheid geneem nie.

“Spekkie wil geld maak”

Twee jaar voor dit het ek ’n kleiner Ronnie Louw rugbydag gereël.  Met die hulp van wyle Norman Langley, ’n man wat sy lewe aan rugby gewy het.  Die probleem was toe nie klubs nie, maar ’n rugbyveld wat ons nie kon kry nie.

Ons het in Vredenburg daardie Saterdagoggend gestaan, toe mnr Langley die raadslid, Johanna Stoffels geskakel het.  Hy wou weet waarom ons nie die veld kan kry nie?

Haar woorde was eenvoudig: “Spekkie wil geld maak.”

Dit, vir ’n man wat sy tyd, geld en energie gratis insit.

Waar sukses wel moontlik was

Die enigste volledig suksesvolle event wat ek ooit in Hopefield kon aanbied, was in 2010,  by die Hopefield Biblioteek.

  • Geen politiek.
  • Geen magspeletjies.
  • ’N Talentfees.
  • Jong sangers.
  • Trompoppies van Vredenburg.

Dit was ook die dag toe Ronnie Louw se Springbokbaadjie oorhandig is,  iets wat sy seun, Donovan Louw, jare lank vergeefs probeer kry het. Twee oproepe later was dit uitsorteer en  die baadjie is deur SA Rugby by Hopefield biblioteek laat aflewer.

Wyle Norman Langley was verantwoordelik vir die oorhandiging aan die oorledene se seun.

Wanneer daar geen afguns is nie, gebeur dinge.

 “Jou dorp se mense stel nie belang nie”

 Voor Covid ontvang ek ’n e-pos om ’n polisie-kaptein in Saldanhabaai te gaan sien. Ek was bekommerd, en ek het gewonder wat ek verkeerd gedoen het.

Toe ek die kaptein ontmoet, was my verbasing nog groter met haar vraag.
“Kan u ons Saldanhabaai  polisie kom help met jeug programme in Diasville en White City?”

Ek sê toe, maar  ek bly in Hopefield.

Sy antwoord:
“Ons weet, maar u dorp se mense stel nie belang in wat u probeer doen vir u gemeenskap se kinders nie.  Mense volg u werk, en hulle glo u kan ’n verskil maak.”

  • Dit het seer gemaak.
  • Ek het die aanbod van die hand gewys.
  • Ek wou steeds my eie dorp dien.

 Vandag kyk ek rond

Wanneer dit warm word, swem ons kinders in ’n vuil moderrige rivier.  En ons gemeenskap aanvaar dit as normaal.  Ons praat daaroor asof ons op ’n eiland leef, afgesny van die buite – wêreld.

Maar ons doen niks nie.

  • Ons is dan deel van ’n sogenaamde beskaafde samelewing.
  • Ons sit met van die rykste minerale rykdom aan die Weskus.
  • En tog het ons byna geen ontspanningsgeriewe vir ons kinders nie.

Geen kind hou van ledigheid nie, ‘n ledige kind soek altyd iets om te doen. En as ons ouers dit nie vandag besef nie, sit ons môre met meer verloorders.

  • Inbrake is reeds ’n kopseer.
  • Skoolverlating op laerskoolvlak word normaal.
  • Honde word vergiftig.
  • Krane en geysers se drade en pype word gesteel.

Wat niemand besef nie, dit gaan nie beter word nie ,  nie met kinders wat rondloop sonder hoop nie.

‘N laaste  waarheid

  • Ek skryf dit nie uit haat nie.
  • Ek skryf dit uit seer.
  • En uit liefde vir kinders wat niemand anders het nie.

As ons aanhou wegkyk,

  • as ons mense afbreek wat wil bou,
  • as ons kinders leer dat niks saak maak nie, dan is die toekoms reeds besluit.

En dan kan niemand eendag sê:
“Ons het nie geweet nie.”

Om af te sluit – Wanderers Krieketklub is hierdie jaar ‘n volle 50 jaar oud….

Wie was verantwoordelik dat hierdie gemeeskap na ‘n halwe dekate steeds ‘n krieketklub het?

Please help us spread the word:

Please help us keep the project alive: