Every Pro Was Once An Amateur – Every Expert was Once a Beginner

So Dream  Big & Strart Now – From Hurt to Strength

‘n Paar weke gelede het ek ‘n onderwyseres in ‘n Bergrivier munisipale dorp genader vir inligting oor kinders by haar skool wat uitblink in sport of skoolprogramme.Ek wou dit deel op West Coast Sports Solutions se nuusblad, want dit is presies waarvoor ons NPO bestaan: om ons jongmense te sien, te vier en te help groei.

Tot my groot verrassing het daardie eenvoudige gesprek haar geïnspireer om self ‘n span saam te stel vir die groot gemeenskaps-fondsinsameling:  die Weskus Waterfees 2026 op Saterdag 16 Mei  in Hopefield. Vandag het ons saam gesit en die dag beplan.  Sy het nie net ingestem om deel te neem nie, sy het ‘n hele span georganiseer vir die 5@5 km relay, en haar span se foto  gaan nog hierdie week spog op WCSS webite.

Maar dit was nie net die span nie – dit was haar persoonlikheid, die…..

Vir die eerste keer in jare het ek iemand teëgekom wat met soveel suiwer, onwrikbare passie praat oor wat ons vir die jeug kan doen.  Haar pad na die onderwys klink soos ‘n sprokie, maar die passie is eg.  Dit is die soort passie wat my dogter Nadia gehad het,  daardie gloed wat sê: “Ek glo in jou, selfs al is jy nog ‘n beginner.”

Lesers, julle gaan binnekort weet wie hierdie vrou is. Want sy het ingestem om voortaan sportnuus vir www.wcsportssolutions.co.za te skryf.  Sy gaan ons help om stories te vertel van kinders wat uitblink, van gemeenskappe wat saamstaan, en van geleenthede wat reg voor ons lê.

Die Weskus Waterfees 2026 is ons vlagskip-gebeurtenis.  Dit is ‘n volle dag van pret, sport, talent, gesinsaktiwiteite en ‘n live prysuitdeling,  alles om fondse in te samel vir ‘n veilige, skoon, omheinde gemeenskaps-swembad in Hopefield.  Ons kinders swem tans in ‘n vuil, stilstaande rivierdam vol gevare: verdrinking, besoedeling, gebreekte glas,  slange,  dwelms en bendes.  Hierdie swembad gaan hulle ‘n plek gee om te leer swem, selfvertroue op te bou, veilig te speel en groter te droom.

Terwyl ons gesels het,  het ek my eie teleurstelling met haar gedeel wat net ‘n week tevore in Hopefield gebeur het.  Ek het drie jongmense genader, ‘n man en twee jong vroue,  wat vrywillig by ‘n instansie in Hopefield werk.  Ek het hulle gevra of een van hulle nie belangstel om as media-woordvoerder vir ons NPO op te tree nie.  Ek het verduidelik watter voordele dit inhou, watter geleenthede dit kan oopmaak,  selfs hoe dit ‘n betaalde loopbaan in die podcast- en joernalistiekbedryf kan word.

Die jongman het dadelik ja gesê.  Die volgende dag het ek teruggegaan, en gevra waarom hy het nie die vorm ingevul nie.  “Ek stel nie meer belang nie,” was sy antwoord.  Die twee jong dames het net geglimlag asof hulle ‘n oorwinning behaal het.  Dit was nie vir my ‘n teleurstelling omdat ons nie ‘n woordvoerder het nie.

Dit was ‘n seer omdat hy homself teleurgestel het, omdat hy sogenaamde vriendinne bevredig…

Ons het daaroor gepraat, die onderwyseres en ek: hoe min visie en belangstelling daar soms by ons jongmense is,  veral ons bruin kinders.  Daar kom soveel geleenthede aanlyn,  maar in plaas daarvan om dit te gryp,  sien ons te veel vingerwysery en skinderstories op sosiale media.  Die regering word dikwels gekruisig oor min geleenthede, maar kyk net na advertensies soos dié van die SABC wat ‘n dag later online was. ‘N advertensie wat studente aanmoedig om in joernalistiek in te vaar,  selfs al weet hulle niks daarvan nie.

Hulle bied opleiding aan – dit is reg voor ons jongmense.

Ek self doen hierdie werk al meer as 30 jaar sonder enige formele opleiding. Ek het skool op 14-jarige ouderdom verlaat.  As skrywer het ek myself geleer.  As ambagsman het ek geboue opgerig wat enige argitek trots sou maak.  Ek tel myself nie as ‘n “skrywer” nie, maar as ‘n bouer,  iemand wat geleenthede sien, vra, en vat. Want ek glo: jou toekoms lê in jou eie hande.

As jy net gaan wag dat ander jou gelukkig maak of vir jou bakhand staan, gaan jy nêrens kom nie.

Hierdie onderwyseres het my herinner aan Nadia se woorde: “Every pro was once an amateur. Every expert was once a beginner. So dream big. And start now.”

Sy leef dit uit, sy het nie gewag vir die perfekte oomblik nie.  Sy het haar loopbaan gebou uit niks, en hier sien sy die  Weskus Waterfees 2026, en sy het opgestaan.  Sy bring dieselfde passie wat Nadia gehad het: glo in die jeug, help hulle om te begin, selfs al voel hulle nog nie gereed nie.

Dit is presies wat West Coast Sports Solutions wil doen: om ons kinders te wys hulle is genoeg, dat hulle kan begin waar hulle is, en dat hulle saam met ons kan grrot droom.

Kom ons ondersteun haar span by die 5@5 km relay op Saterdag 16 Mei 2026 tydens die Weskus Waterfees in Hopefield. Kom ons vier die onderwyseres wat besluit het om nie net te praat nie, maar te doen. En kom ons wys ons jongmense: daar is ‘n ander pad. Een van passie, visie en aksie.

Glo in jouself. Begin nou. Droom groot. En help ander saam.

George April Founder, West Coast Sports Solutions NPO NPO-nommer: 281-169

E-pos: admin@wcsportssolutions.co.za Sel: 067 074 5040

Wil jy help om die swembad te bou? Besoek: https://www.backabuddy.co.za/campaign/safe-swimming-pool-for-hopefields-children

Of stuur POOL na 41878 (R2 per SMS).

Please help us spread the word: