Die bestuur van “West Coast Sports Solutions NPO” (WCSS) van Hopefield wil vandag opreg dankie sê aan “Karen Baynes Reynolds” eienaar van die pragtige gastehuis “50 on Vic” in Hopefield. Sy het ons organisasie self genader met die wonderlike voorstel om kinders van 5 tot 15 jaar oor drie dae in haar swembad te bederf.
Meer as 30 kinders het daagliks die kans van ’n leeftyd gekry om, sonder enige tydsbeperking, in die hittige Weskus-somer in die heerlike swembad te swem en te baljaar.
Dit was drie dae vol lag, plons en pure vreugde!
’N spesiale dankie ook aan: – Julies Taxi Vervoer dienste wat daagliks die kinders op eie onkoste na die swembad geneem en weer veilig tuis besorg het.
– Dexter Farao, Howard James en Henrietta Hugo Erasmus wat as lewensredders en toesighouers gesorg het dat almal veilig was. Henrietta, wat ook ’n onderwyseres by Hopefield Primêre Skool is, het al drie dae self saam met die kinders in die water gespeel!
– Drie ouers uit die gemeenskap, saam met Karen Reynolds, wat die kinders bederf en gemotiveer het met heerlike lekkernye, kos en koeldrank om die hitte te breek.
– Melt Smith, eienaar van “Spar Hopefield”, wat vir twee dae alles verskaf het wat ons gevra het. Die trollie in die winkel was propvol, dankie aan die groot hart van die publiek!
– Essie en Tyrone Poole van “Hopefield Abattoir” wat op navraag sonder huiwering dadelik bygedra het om die kinders te voed.
– ’n Plaaslike Pakistaanse kafee het ook sonder aarseling mildelik geskenk.

Hierdie driedaagse bederf was net die begin, ons wil kinders aktief besig hou, sodat hulle moet uitsien om skool toe te gaan en hul drome te verwesenlik.
WCSS veg al sedert 2019 vir ’n openbare swembad in Hopefield. Ons kinders swem tans in die Soutrivier wat deur die dorp loop. Water wat in die somer stagneer, stinkend en onhigiënies word. Hopefield is een van die warmste dorpe aan die Weskus, en die rivierpoele word omring deur droë fluitjiesriet waar cobra-slange (wat volop hier is) ook skuil. Dit is eenvoudig nie veilig nie.
In 2020 het ons ’n amptelike brief aan die Saldanhabaai Munisipaliteit gestuur met die versoek om saam te werk, maar ons is betroubaar ingelig dat die brief “verwyder” is voordat dit ooit die raadsaal bereik het.
Ons gee nie op nie!
WCSS is vasberade om hierdie jaar ’n swembad vir ons weerlose, minderbevoorregte kinders ’n werklikheid te maak. Fondsinsamelingspogings is reeds aan die gang, en die samewerking van die Saldanhabaai Munisipaliteit sal van kardinale belang wees om die droom te laat waar word.
Spesiale aankondiging: 16 Mei 2026 – ’n Groot Fondsinsamelingsdag!
Op 16 Mei vier ons stigter sy “70ste verjaardag”, en ons maak dit ’n feesdag om geld in te samel vir die Hopefield-swembad!
Die program lyk soos volg:
🏃 07:00 – 7 km Fun Run / Stap
’n Ontspannende 7 km-roete deur Hopefield vir hardlopers én stappers van alle ouderdomme. Kom geniet die oggendlug en ondersteun die saak!
👴 09:00 – 70 meter-resies vir 70-jariges
Ons stigter is die amptelike “challenger”! Alle 70-plussers word uitgedaag om teen hom te jaag oor 70 meter.
Lag, pret en baie applous gewaarborg!
♿ 10:00 – @3 Rolstoel – Relay’s wedloop
Spanne van 3 rolstoelgebruikers jaag mekaar in ’n opwindende aflos. Belangrik: Alle stoters (die persone wat die rolstoele stoot) moet 60 jaar of ouer wees! Kom wys ons ooms en tannies is nog vinnig!
Deur die dag sal daar stalletjies, musiek, springkastele vir kinders, en heerlike kos en drinkgoed wees.
Elke sent gaan direk na die swembad-fonds.
Ouers en gemeenskapslede van Hopefield – kom na vore!
Stel julleself beskikbaar om kinders en jongmense aan positiewe programme bloot te stel.
Saam kan ons verseker dat ons kinders veilige, gesonde en opbouende aktiwiteite het.
Dankie aan almal wat reeds bygedra het. Kom ons maak 2026 die jaar wat Hopefield se kinders uiteindelik hul eie swembad kry! 💙💦
Vir meer inligting of om te borg/skenk: WhatsApp George April by 067 074 5040 of stuur epos na admin@wcsportssolutions.co.za
